Elke jaar… elke liewe jaar, dan tref die groot lus vir verandering my hier rondom September/Oktober. Ek verander van haarkleur, ek begin ‘n nuwe hobby… ek skaf ‘n nuwe troeteldier aan. Oktober merk ook albei ons seuns se verjaarsdae. Daarom seker ook maar die behoefte vir verandering, want met elkeen van hulle se opwagting het ons lewens hand-om-keer verander.
Hierdie jaar het die veld se bruin my meer as normaalweg begin pla. Als is net vaal. Bruin. Grys. En dit het my ernstig begin vang. In die laaste paar weke het ek begin soek na groen. En hoe meer GROEN ek gesoek het, hoe minder het ek gevind. Saam met my soektog na groen het daar so bietjie lig ook in my foto’s ingekruip. En kleur. En ek dink ek hou nogal daarvan.