Hierdie troue het met ‘n langpad gekom… Amper solank as wat ek al vir Festus ken.
Festus en Michelle ken mekaar al van 2012 af, maar die liefde het eers in 2016 begin blom. En toe hul uiteindelik begin trou praat, het hulle ook dinge agterstevoor om gedoen. Die verlowing het eers na die venue se geboek gekom. (Verlowings Foto’s) Wat die res betref, was dit ‘n boere troue.
‘n Warm, boere troue. Warm, want dit was drukkend warm. Die tannies se battery-aangedrewe-waaiertjies se gôe was al uit halfpad deur die diens. En toe loop daar strome van seën. En dit was warm, want die Outjo-gemeenskap se harte is kookwater warm en hul voete nog warmer as hul die dansvloer tref.
Tussen die liters water (en ander dinge) wat daardie Saterdag gevloei het, is daar baie gelag, want Festus het so ampertjies weggekom tussen die laaste toespraak en die tafelgebed met sy bedankings, daar is ook maar baie trane afgevee want oom Fes se stoel was tasbaar leeg. En dan was daar die ou wat niemand eintlik geken het nie, maar die heel hardste gehuil en gelag het – altyd in die tussen poses.
Die kos was lip-aflek lekker en die musiek het tot lank na slaaptyd deur die Ugab Terrasse gewaai.
Maar voordat ek nou self ‘n traan kraak, hier is Mnr & Mev Van Der Westhuizen se groot dag!