Die son sit nog hoog toe Festus en Michelle my kom oplaai vir hul verlowingsessie op Otjiwa. Michelle is onder die indruk dis net die paartjie sessie wat sy gereël het. Nie heeltemal seker wanneer sy besef het dat dat daar meer aan die gang is nie, ry ons Otjiwa toe vir ‘n foto sessie op een bitter warm Dinsdag middag.
Met die aankoms verdwyn Festus en ons gaan sit en drink iets om te wag dat dit net koeler word. (Dit was nie juis suksesvol nie). Festus kom kondig aan dat ons wildsbesigtings rit eers oor ‘n tydjie begin, so ons kan rustig wees. Net na vyf is ons op die bakkie en ek is baie dankbaar vir die dakkie bo-op en die wind wat deurstoot, want die son bak soos net ‘n Namibiese Somerson kan bak. Ek begin uitkyk vir foto opsies en kort voor lank stop ons vir ons eerste foto’s.
Daar word redelik gekonkel want ons gids weet wat kom en hierdie is ‘n baie spesiale namiddag rit. Hy soek renosters en kort voor lank toe kry ons ‘n ma met ‘n kleintjie. Nou gaan ons foto’s neem… dis maar ‘n senuweeagtige storie, want renosters is baie groter as wat hul op foto’s lyk en nie die stadigste diere op die plaas nie. En almal weet – ‘n Ma met ‘n baba se draad is bitter kort… My tyd om hierdie twee verliefdes voor die renosters af te neem is bitter kort, but we make it work.
Daarna kry ons nog baie diere, maar die kameelperde pronk tog te mooi vir hierdie foto’s. Ek vra die gids om maar sy tyd te verwyl. Die son bly hoog en die son skitter. Golden hour is nog ‘n wyle vêr. Ons wandel ‘n bietjie in die veld, soek nog diere en uiteindelik ry ons op na die koppie waar dinge moet gebeur. Die lig raak al hoe beter en ons kiek ‘n paar kiekies todat Festus die ring boksie uithaal en op sy knieg gaan. Dis ‘n ou hokkie knieg, so weereens moet ek bitter vinnig dinge laat gebeur. Michelle, redelik onkant gevang met die gebaar, lag en huil deurmekaar. Dis ‘n oomblik wat ek nie sommer sal vergeet nie. Gelukkig sê sy ja en kan ons die champagne oopmaak, want teen hierdie tyd is almal honger en dors.
Ons sit in stilte en kyk hoe die son ondergaan voordat ons opspring en die pad huis toe aandurf.