Alexander Word 3
Alexander

My Warrelwind, Reënboog Kind

Dis nie baie mense wat weet dat Alexander ‘n reënboog-baba is nie, wat ook seker verklaar hoekom ek dan in September deur diep waters gaan, meestal my eie waters.

Ek spot baie dat hierdie woelwater ‘n 2-in-1 is, want daar is net geen einde nie. As tweede kind is dit normaal dat hy so van sy ouboet sal verskil. Maar Alexander verskil nie net van Rocco nie. Hy is totaal en al anders as enige iemand anders in ons nabye familie. Onverskrokke storm hy gereeld die dag in. Hy klim en klouter waar Rocco dit nou nog nie waag nie. Hy toets my, maar veral sy Pa, se grense en verkrummel ons mure. Hy lag-lag enige kritiek af en sal heeldag-lank, elke dag, in die water speel. Die wat hom al gesien het op ‘n springmat, weet, dat hierdie mannetjie nie terugstaan vir die groter maats nie. Ten minste weet ek waar hy sy liefde vir diere gekry het en ek vermoed dat ons binnekort ‘n swetterjoel gediertetjies in die huis sal hê. Hy is sy tannie Nien se oogappel en het pens en pootjies in talle ander se harte en huise geklim. Hy is versot op sy Oupas en kannie eers Ouma sê nie. Alexander het die vermoë om my totaal en al te drain, net om my beker weer in tien sekondes vol te maak. Hy is my alles-of-niks kind.

Alexander, vir drie jaar vermaak jy ons al. Jy jaag gereeld ons bloeddruk meters die rooi in en ek is seker my en jou Pa se meters was al ‘n paar keer gebreuk ook. Maar vanaand as ons in die bed lê, dan sê ons dankie vir nog ‘n dag saam met jou. Saam met jou kom ‘n warrelwind van liefde, vreugde, lewe en ‘n onuitputbare energie. Jy is Rocco se teenoorgestelde, sy grootste irritasie, maar ook sy grootste trots. Ons is ongelooflik lief vir jou. Meer as wat ons ooit vir jou kan wys of sê. Ons besit eenvoudig nie genoeg energie om op jou vlak die lewe te kan indans nie. So ons volg jou – meestal in die stof wolke wat jy agterlaat – maar ons is met jou. Al die pad. Jou grootste aanhangers en ondersteuners.

Mag die lewe nooit jou vuur blus nie. Mag jy altyd een stap voor wees; een sprong hoër spring… mag jou lewenslus nooit gedemper word met seerkry en siektes nie. En mag jy altyd onthou en weet dat Hy wat jou geskape het, voor jou uitgaan met ‘n fakkel om vir jou die lig te wys.

Lekker verjaar groot seun.

More Beautiful People

CALL ME TO START PLANNING YOUR DREAM PHOTO SESSION

+264 81 389 0244

Don’t miss out on my next blog post