Van Zyl Family | On the Beach in Jeffreys Bay
van zyl family on the beach

Vriendskap, Boeke en 'n Son wat aan die verkeerde kant opkom

Dit was een van daardie warm Jeffrey’s Baai dae. Ons het in die see baljaar en toe ek net nie meer see water deur my neus kon sluk nie, besluit ek om maar by my sussie onder die sambreel te gaan skuiling soek. Hier ontmoet ek dan vir Alishia. Dis ‘n vinnige ontmoeting en ons maak net vas vir hul foto sessie die oggend van die 31ste. 

Vyf uur skrou my alarm. Dis onnodig, want ek is reeds wakker. Ek het twee weke laas ‘n foto sessie gedoen en my senuwees is gedaan. Dis ‘n nuwe omgewing en ek weet Janine het die verwagtinge hemel hoog gestapel. Dis reeds lig buite en ek verwonder my aan Rocco en Amelie wat so in die lig geslaap kry. Ek maak stil-stil koffie, soek idees op Instagram en stap net oor die pad na waar die Van Zyl’s bly. Dis ‘n gemaklike vriendskap so oor die straat. So in die vroeë oggend ure ontmoet ek vir Gerhard en die kinders. Ons ry eers uit na die mooiste park net buite Jeffreys, maar die bosluise loop wild hier en ons besluit om maar eerder strand toe te beweeg. My mond hang oop. Letterlik. Sesuur die oggend en die strande is reeds vol. Die son kou aan my vel en die lig is helder. My maag draai. En net toe ek dink, ek sal my storie moet ken, besef ek… die son sit aan die verkeerde kant. O vrek. Wat nou? 

Ek mik, ek draai, en ek probeer my heel beste. Binne minute is die lig só helder dat ek nie kan sien sonder my bril nie. Hier is die laaste brander ‘n dun lagie water wat so oor die strand gly. En omdat die son so snaaks sit, weerkaats hy alte pragtig. Ek besef dat bid my enigste redding hier gaan wees. Geen van die duur kursusse wat ek in 2022 gedoen het gaan hier werk nie. En na ‘n twee weke vakansie, hopeloos te veel wyn en diep kuiers kan ek in elk geval wynig onthou. (En nou wonder ek skielik oor die oorsprong van “wynig”). So tussen die gemik en gesukkel besef ek iets – hier is ‘n konneksie. ‘n Vreemde realiteit vir hierdie alleenloper. 

Dis die 31ste en ons kuier op die strand, op die stoep en ons braai die laataand in. Iewers kom Janine se buurvrou oor… die einste Alichia. En ons kuier. Ons het baie in gemeen en ons gesels ‘n hond uit ‘n bos. ‘n Paar dae later nooi sy ons vir ‘n koek by haar en Janine se gunsteling restaurant en ons drie vrouens kuier asof ons geen man of kind het nie. Toe die koek en die koffie op is, trek ons die wyn menu nader, want Mariëtte het ‘n wyn op ‘n ander tafel gesien wat darem net te lekker lyk… en ons kuier onsself amper in die moeilikheid in… 

Ons tyd in Jeffreys raak min en ek besluit, Alichia en Gerhard moet saam kom verjaarsdag vier. En ons kuier dwars deur die reënerigste dag… 

En dis hierdie memories wat ek onthou terwyl ek edit…. En ek sê dankie vir Janine wat hierdie foto sessie georganiseer het en haar baie goeie keuse in vriendinne. Ek weet natuurlik waar sy haar smaak gekry het.

Alichia, ek skink vanaand ‘n glasie op nog kuiers. Ek weet nie hoe en wanneer nie, maar ek weet Jesus het jou oor my en Janine se pad gebring vir ‘n rede. En ek bêre my verjaarsdag geld vir daai boek wat ek weet ‘n stempel op ons vriendskap is. Mooi loop mater en kyk mooi na daai buurvrou van jou.

More Jeffrey’s Bay Goodness Coming Your Way 

More Beautiful People

CALL ME TO START PLANNING YOUR DREAM PHOTO SESSION

+264 81 389 0244

Don’t miss out on my next blog post